Êxodo

1. En 'n man uit die huis van Levi het gegaan en 'n dogter van Levi geneem.

2. En die vrou het swanger geword en 'n seun gebaar. En toe sy sien dat hy mooi was, het sy hom drie maande lank weggesteek.

3. Maar toe sy hom nie langer verborge kon hou nie, het sy vir hom 'n mandjie van biesies geneem en dit met lymgrond en pik bestryk; en sy het die seuntjie daarin neergelê en dit in die riete aan die kant van die Nyl gesit.

4. En sy suster het op 'n afstand gaan staan om te wete te kom wat met hom sou gebeur.

5. En Farao se dogter het na die Nyl afgegaan om 'n bad te neem, terwyl haar diensmeisies aan die kant van die Nyl heen en weer geloop het. Toe sien sy die mandjie tussen die riete en stuur haar slavin en laat dit haal.

6. Nadat sy dit oopgemaak het, sien sy die kind, en kyk, dit was 'n seuntjie wat huil! En sy het hom jammer gekry en gesê: Dit is een van die kinders van die Hebreërs.

7. Toe sê sy suster aan die dogter van Farao: Sal ek vir u 'n pleegmoeder uit die Hebreeuse vroue gaan roep, dat sy vir u die seuntjie kan soog?

8. En Farao se dogter antwoord haar: Ja. En die jongmeisie het geloop en die seuntjie se moeder geroep.

9. Daarop sê Farao se dogter vir haar: Neem hierdie seuntjie en soog hom vir my, en ek sal jou loon gee. En die vrou het die seuntjie geneem en hom gesoog.

10. En toe die seuntjie groot geword het, bring sy hom na Farao se dogter; en hy het haar seun geword. En sy het hom Moses genoem en gesê: Ek het hom mos uit die water getrek.

11. En in die dae toe Moses al groot was, het hy na sy broers uitgegaan en hulle harde arbeid aangesien. En hy het gesien hoe 'n Egiptiese man 'n Hebreeuse man, een uit sy broers, slaan.

12. En hy het hierheen en daarheen gekyk, en toe hy sien dat daar niemand was nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom in die sand begrawe.

13. Die volgende dag het hy weer uitgegaan, en daar was twee Hebreeuse manne wat met mekaar veg. Hy vra toe vir die een wat ongelyk gehad het: Waarom slaan jy jou naaste?

14. En hy antwoord: Wie het jou as owerste en regter oor ons aangestel? Dink jy om my dood te slaan soos jy die Egiptenaar omgebring het? En Moses het gevrees en gesê: Waarlik, die saak het bekend geword!

15. En toe Farao van die saak hoor, het hy probeer om Moses dood te maak. Maar Moses het van Farao af weggevlug en in die land M¡dian gaan woon. En hy het by 'n put gesit.

16. En die priester van M¡dian het sewe dogters gehad: die het gekom om te put en die drinkbakke vol te maak om hulle vader se kleinvee te laat drink.

17. Maar die veewagters het gekom en hulle weggedrywe. Toe staan Moses op en help hulle en laat hulle vee drink.

18. En toe hulle by hul vader R‚huel kom, sê hy: Waarom kom julle vandag so gou?

19. En hulle antwoord: 'n Egiptiese man het ons uit die hand van die veewagters verlos; en hy het ook volop vir ons geput en die vee laat drink.

20. Daarop sê hy vir sy dogters: En waar is hy? Waarom het julle die man dan daar laat staan? Roep hom, dat hy brood kan eet.

21. En Moses het ingewillig om by die man te bly, en hy het aan Moses sy dogter Sippora gegee.

22. En toe sy 'n seun baar, het hy hom Gersom genoem. Want hy het gesê: Ek het 'n vreemdeling in 'n vreemde land geword.

23. En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God.

24. En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob.

25. En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken.

1. En Moses het die kleinvee opgepas van sy skoonvader Jetro, die priester van M¡dian. En toe hy die kleinvee agter die woestyn gedryf het, kom hy by die berg van God, by Horeb.

2. Daarop verskyn die Engel van die HERE aan hom in 'n vuurvlam uit 'n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur, maar die doringbos word nie verteer nie!

3. En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie.

4. Toe die HERE sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy antwoord: Hier is ek.

5. En Hy sê: Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond.

6. Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien.

7. En die HERE sê: Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte.

8. Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na 'n goeie en wye land, na 'n land wat oorloop van melk en heuning, na die woonplek van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete.

9. En nou, kyk, die jammerklagte van die kinders van Israel het tot by My gekom. Ook het Ek die verdrukking gesien waarmee die Egiptenaars hulle verdruk.

10. Gaan dan nou heen, dat Ek jou na Farao kan stuur; en lei my volk, die kinders van Israel, uit Egipte uit.

11. Maar Moses het tot God gespreek: Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte sou lei?

12. En Hy antwoord: Ek sal met jou wees, en dit sal vir jou 'n teken wees dat Ek jou gestuur het: As jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle op hierdie berg God dien.

13. Hierop het Moses tot God gespreek: Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam? -- wat moet ek hulle antwoord?

14. En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.

15. Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag.

16. Gaan heen en versamel die oudstes van Israel en sê vir hulle: Die HERE, die God van julle vaders, het aan my verskyn, die God van Abraham, Isak en Jakob, en het gesê: Ek het terdeë ag gegee op julle en op wat julle in Egipte aangedoen is.

17. Daarom het Ek besluit: Ek wil julle uit die ellende van Egipte laat optrek na die land van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete, na 'n land wat oorloop van melk en heuning.

18. En hulle sal na jou luister. Dan moet jy met die oudstes van Israel na die koning van Egipte gaan, en julle moet vir hom sê: Die HERE, die God van die Hebreërs, het ons ontmoet; laat ons dan nou tog drie dagreise ver die woestyn intrek en aan die HERE, onse God, offer.

19. Maar Ek weet dat die koning van Egipte julle nie sal laat gaan nie, ook nie deur 'n sterke hand nie.

20. En Ek sal my hand uitstrek en Egipte met al my wonders teister wat Ek daarin sal doen; en daarna sal hy julle laat trek.

21. En Ek sal aan hierdie volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars; en as julle dan trek, moet julle nie met leë hande trek nie,

22. maar elke vrou moet van haar buurvrou en van haar wat in haar huis vertoef, silwer-- en goue voorwerpe en klere eis. En julle moet dit op julle seuns en dogters sit, en so Egipte berowe.

1. Toe antwoord Moses en sê: Maar as hulle my nie glo en na my stem nie luister nie, maar sê: Die HERE het nie aan jou verskyn nie?

2. Daarop vra die HERE vir hom: Wat is daar in jou hand? En hy antwoord: 'n Staf.

3. En Hy sê: Gooi dit op die grond. Toe gooi hy dit op die grond, en dit het 'n slang geword; en Moses het daarvoor gevlug.

4. Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert. Hierop het hy sy hand uitgesteek en dit gegryp, en dit het 'n staf in sy hand geword --

5. sodat hulle kan glo dat die HERE, die God van hulle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, aan jou verskyn het.

6. En die HERE het verder vir hom gesê: Steek tog jou hand in jou boesem. En hy het sy hand in sy boesem gesteek; en toe hy dit uittrek, was sy hand melaats, soos sneeu!

7. En Hy sê: Steek jou hand weer in jou boesem. En hy het sy hand weer in sy boesem gesteek; en toe hy dit uit sy boesem uittrek, was dit weer soos sy ander vlees!

8. En as hulle jou nie glo en aan die eerste teken geen gehoor gee nie, dan sal hulle die laaste teken glo.

9. En as hulle ook hierdie twee tekens nie glo en na jou stem nie luister nie, neem dan van die Nyl se water en giet dit op die droë grond uit; dan sal die water wat jy uit die Nyl neem, op die droë grond bloed word.

10. Toe sê Moses aan die HERE: Ag, Here, ek is nie 'n man van woorde nie -- van gister of van eergister of vandat U met u kneg gespreek het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong.

11. En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?

12. Gaan dan nou heen, en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.

13. Maar hy sê: Ag, Here, stuur tog deur wie U wil stuur.

14. Toe ontvlam die toorn van die HERE teen Moses, en Hy sê: Is jou broer Aäron, die Leviet, nie daar nie? Ek weet dat hy goed kan praat. En hy gaan ook al uit om jou te ontmoet, en as hy jou sien, sal hy bly wees in sy hart.

15. Jy moet dan met hom spreek en die woorde in sy mond lê. En k sal met jou mond en sy mond wees en julle leer wat julle moet doen.

16. En hy moet vir jou met die volk spreek, en dan sal hy vir jou 'n mond wees en jy vir hom 'n god wees.

17. Neem dan hierdie staf in jou hand waarmee jy die tekens moet doen.

18. Toe gaan Moses weg en kom by sy skoonvader Jetro terug, en hy sê vir hom: Laat my tog trek en na my broers teruggaan wat in Egipte is, om te sien of hulle nog lewe. En Jetro sê vir Moses: Gaan in vrede.

19. Ook het die HERE vir Moses in M¡dian gesê: Gaan heen, keer terug na Egipte; want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood.

20. Moses neem toe sy vrou en sy seuns en laat hulle op 'n esel ry, terug na Egipteland. Moses het ook die staf van God in sy hand geneem.

21. En die HERE sê vir Moses: Nou dat jy wegtrek om na Egipte terug te gaan, kyk dat jy al die wonders voor Farao doen wat Ek in jou mag gestel het. Maar k sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie.

22. Dan moet jy vir Farao sê: So spreek die HERE: My eersgebore seun is Israel.

23. Daarom beveel Ek jou: Laat my seun trek, dat hy My kan dien. Maar jy het geweier om hom te laat trek. Kyk, Ek sal jou eersgebore seun laat sterwe.

24. En op die pad in die herberg het die HERE hom teëgekom en wou hom doodmaak.

25. Toe neem Sippora 'n skerp klip en sny die voorhuid van haar seun af en gooi dit voor sy voete en sê: Waarlik, jy is vir my 'n bloedbruidegom!

26. En Hy het hom laat staan. Toe het sy gesê: Bloedbruidegom! -- met die oog op die besnydenis.

27. Die HERE het ook aan Aäron gesê: Loop Moses tegemoet in die woestyn. En hy het geloop en hom by die berg van God aangetref en hom gesoen.

28. Daarop vertel Moses aan Aäron al die woorde van die HERE waarmee Hy hom gestuur het, en al die tekens wat Hy hom beveel het.

29. En Moses en Aäron het vertrek en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaar laat kom;

30. en Aäron het al die woorde gespreek wat die HERE aan Moses gesê het, en die tekens gedoen voor die oë van die volk.

31. En die volk het geglo. En toe hulle hoor dat die HERE op die kinders van Israel ag gegee en hulle ellende aangesien het, het hulle in aanbidding neergebuig.

Significados: Levi, Israel.

Você está lendo Êxodo na edição AFR, Afrikaans, em Africânder.
Este lívro compôe o Antigo Testamento, tem 40 capítulos, e 1212 versículos.