1. Toe het lifas, die Temaniet, geantwoord en gesê:

2. Sal 'n wyse man met winderige wetenskap antwoord gee en sy buik vul met oostewind --

3. deur te pleit met woorde wat nie baat en met beweringe waarmee hy niks uitrig nie?

4. Ja, jy breek die Godsvrees af en verstoor die stille oordenking voor die aangesig van God.

5. Want jou ongeregtigheid gee onderrig aan jou mond, en jy kies die taal van die listiges.

6. Jou eie mond veroordeel jou, en nie ek nie; ja, jou eie lippe getuig teen jou.

7. Is jy die eerste as mens gebore en voor die heuwels in die wêreld gebring?

8. Het jy in die raad van God afgeluister en die wysheid na jou toe getrek?

9. Wat weet jy wat ons nie weet nie? Wat verstaan jy wat in ons nie is nie?

10. Ook is daar grys hare, ook bejaardes onder ons, ryker in dae as jou vader.

11. Is die vertroostinge van God vir jou te min, en 'n woord met sagtheid jou toegespreek?

12. Waarom sleep jou hart jou weg? En waarom flikker jou oë so --

13. dat jy jou toorn rig teen God en sulke woorde uit jou mond laat uitgaan?

14. Wat is die mens, dat hy rein sou wees? En hy wat uit 'n vrou gebore is, dat hy regverdig sou wees?

15. Kyk, in sy heiliges stel Hy geen vertroue nie; ja, die hemele is nie rein in sy oë nie;

16. hoeveel minder die afskuwelike en ontaarde, die mens wat onreg drink soos water!

17. Ek wil jou inlig, luister na my; en wat ek gesien het, wil ek vertel;

18. wat die wyse manne verkondig sonder om iets te verberg, van hulle vaders af oorgelewer;

19. aan hulle alleen was die land gegee, en geen vreemdeling het nog onder hulle deurgetrek nie.

20. Al sy dae leef die goddelose in angs, ja, al die jare deur wat vir die tiran bepaal is.

21. Skrikgeluide is in sy ore; in volle vrede oorval die verwoester hom.

22. Hy glo nie dat hy uit die duisternis sal terugkeer nie; en hy is bestemd vir die swaard.

23. Hy dwaal rond en soek brood. Waar is dit? Hy weet dat gereed is, ophande, die dag van duisternis.

24. Benoudheid en angs verskrik hom; dit oorweldig hom soos 'n koning wat gereed staan vir die aanval,

25. omdat hy sy hand uitgesteek het teen God en die Almagtige getrotseer het

26.

27. omdat hy sy gesig met sy vet oordek en 'n vetlaag op sy heupe gevorm het,

28. en verdelgde stede bewoon het, huise wat nie bewoon moes word nie, wat bestem was om puinhope te bly.

29. Hy bly nie ryk en sy vermoë hou nie stand nie, en hulle besitting buig nie soos koringare na die aarde toe nie.

30. Hy ontvlug nie die duisternis nie, die vlam laat sy spruit verdroog, en hy vergaan deur die geblaas van die mond van God.

31. Laat hom nie vertrou op nietigheid nie -- hy kom bedroë uit! -- want nietigheid sal sy vergelding wees.

32. Voor sy tyd word dit vervul, en sy palmtak bly nie meer groen nie.

33. Hy skud sy onryp druiwe af soos 'n wingerdstok en gooi sy bloeisel af soos 'n olyfboom.

34. Want die bende van die goddelose is onvrugbaar, en vuur verteer die tente van omkopery.

35. Hulle is swanger van moeite en baar onheil; en hulle skoot bring bedrog voort.

1. Maar Job het geantwoord en gesê:

2. Dergelike dinge het ek al baie gehoor: treurige vertroosters is julle almal.

3. Kom daar nou 'n einde aan winderige woorde? Of wat prikkel jou dat jy antwoord?

4. Ek sou ook kon spreek soos julle as julle siel in die plek van my siel was; ek sou woorde aanmekaar kon koppel teen julle en my hoof oor julle skud;

5. ek sou julle kon versterk met my mond, en die troos van my lippe sou versagting aanbring!

6. As ek sou spreek, my smart word nie versag nie; en as ek ophou -- watter verligting bring dit my?

7. Maar nou het Hy my uitgeput; U het my hele huishouding verwoes.

8. En U het my gegryp -- 'n getuie het dit teen my geword; en my siekte staan teen my op, dit getuig openlik teen my.

9. Sy toorn het verskeur en my as vyand behandel; Hy het teen my gekners met sy tande; as my teëstander kyk Hy my met skerp oë aan.

10. Hulle het hul mond teen my oopgespalk; smadelik het hulle my op die kakebeen geslaan; soos een man versamel hulle hul teen my.

11. God gee my oor aan slegte mense en werp my in die hande van die goddelose.

12. Ek het rustig gelewe; toe het Hy my verbrysel en my aan die nek gegryp en my verpletter; en Hy het my vir Hom as teiken opgestel.

13. Sy pyle gons om my heen; Hy splits my niere sonder verskoning; Hy werp my gal op die grond uit.

14. Bres op bres breek Hy in my; Hy loop my storm soos 'n held.

15. 'n Roukleed het ek oor my vel vasgewerk en my horing in die stof gesteek.

16. My gesig het rooi geword van geween, en oor my ooglede is daar 'n doodskaduwee;

17. alhoewel daar geen gewelddaad in my hande is nie en my gebed rein is.

18. o Aarde, moenie my bloed bedek nie, en laat daar geen rusplek vir my geroep wees nie.

19. Selfs nou, kyk, in die hemel is my Getuie; en Hy wat saam met my getuig, is in die hoogtes.

20. My vriende spot met my; uit my oog drup trane tot God --

21. dat Hy kan pleit vir 'n man by God en as Menseseun vir sy naaste.

22. Want maar min jare kom -- dan bewandel ek 'n pad waarlangs ek nie terugkeer nie.

1. My gees is verward, my dae is uitgeblus, die graf wag op my.

2. Waarlik, bespottinge is my deel, en op hulle getwis moet my oog rus.

3. Gee tog 'n pand, staan borg vir my by U; wie anders sal vir my borgskap verleen?

4. Want U het hulle hart gesluit vir verstand; daarom sal U hulle nie laat triomfeer nie.

5. Hy wat vriende aanklaag vir 'n buitaandeel -- die oë van sy kinders sal versmag.

6. Maar Hy het my 'n spreekwoord vir die mense gemaak, en ek moet iemand wees wat hulle in die gesig spuug.

7. Daarom het my oog dof geword van verdriet, en al my lede is soos 'n skaduwee.

8. Die opregtes is daaroor ontsteld, en die onskuldige kom teen die goddelose in opstand.

9. Nogtans hou die regverdige vas aan sy weg, en die wat rein van hande is, neem toe in krag.

10. Maar, kom maar altyd weer aan, julle almal! 'n Wyse vind ek onder julle tog nie.

11. My dae is verby, my planne tot niet, die wense van my hart.

12. Van die nag maak hulle 'n dag; lig, sê hulle, is naby vanweë die duisternis.

13. As ek hoop op die doderyk as my huis; in die duisternis my bed uitsprei,

14. die grafkuil toeroep: My vader is jy; die wurms: My moeder en my suster,

15. waar is dan my verwagting? Ja, my verwagting, wie ontdek dit?

16. Na die grendels van die doderyk sal dit neerdaal, wanneer daar tegelykertyd rus is in die stof.

1. Toe het Bildad, die Suhiet, geantwoord en gesê:

2. Hoe lank wil julle jaag agter woorde? Word verstandig, en daarna sal ons spreek.

3. Waarom word ons as vee gereken, is ons dom in julle oë?

4. Jy, iemand wat homself verskeur in sy toorn -- sal om jou ontwil die aarde verlate wees of 'n rots uit sy plek versit word?

5. Ja, die lig van die goddelose gaan dood, en die vlam van sy vuur bly nie flikker nie.

6. Die lig in sy tent word duisternis, en sy lamp bo hom gaan dood.

7. Sy geweldige treë word ingekort, en sy eie plan gooi hom omver.

8. Want hy raak in 'n net deur sy eie voete, en hy loop oor die vlegwerk van 'n vangkuil.

9. 'n Vangnet gryp sy hakskeen, 'n strik hou hom vas.

10. 'n Tou is vir hom verberg in die grond en 'n valstrik vir hom op die pad.

11. Verskrikkinge beangstig hom aan alle kante en jaag hom so ver as hy gaan.

12. Sy onheil het honger, en die ondergang staan gereed vir sy val.

13. Die eersgeborene van die dood verteer die lede van sy liggaam, hy verteer sy lede.

14. Weggeruk word hy uit sy tent, die voorwerp van sy vertroue; en dit laat hom aanstap na die koning van die verskrikkinge.

15. Daar woon in sy tent iets wat hom nie toebehoort nie; swawel word gestrooi oor sy woning.

16. Onder verdroog sy wortels, en bo verwelk sy tak.

17. Sy gedagtenis vergaan van die aarde af, en hy het geen naam op die wye veld nie.

18. Hulle stoot hom uit die lig in die duisternis, en uit die wêreld verjaag hulle hom.

19. Hy het geen kroos of nageslag onder sy volk en niemand wat oorbly in sy wonings nie.

20. Oor sy dag staan die mense van die Weste verskrik, en siddering gryp die mense van die Ooste aan.

21. Sekerlik, so gaan dit met die wonings van die kwaaddoener en so met die plek van hom wat God nie ken nie.

1. Maar Job het geantwoord en gesê:

2. Hoe lank sal julle my siel kwel en my met woorde verbrysel?

3. Nou tien maal al doen julle my smaadheid aan, mishandel julle my sonder om julle te skaam.

4. En het ek ook werklik my misgaan, dan bly my fout by my.

5. As julle jul werklik teen my wil groot maak en teen my my smaadheid wil bewys,

6. weet dan dat God my onregverdig behandel het en met sy net my rondom ingesluit het.

7. As ek roep: Geweld! dan word ek nie verhoor nie; ek roep om hulp, maar daar is geen reg nie.

8. Hy het my weg toegemuur, sodat ek nie verby kan nie; en oor my paaie het Hy duisternis gesprei.

9. My eer het Hy van my afgetrek en die kroon van my hoof weggeneem.

10. Hy werp my aan alle kante omver, en -- daar gaan ek! En Hy het my verwagting uitgeruk soos 'n boom.

11. Ook het Hy sy toorn teen my laat ontvlam en my beskou as een van sy vyande.

12. As een man kom sy skare aan en baan 'n pad vir hulle teen my, en hulle slaan die laer op rondom my tent.

13. My broers het Hy ver van my verwyder, en my bekendes het vir my heeltemal vreemd geword.

14. My nabestaandes ontbreek, en my vertroudes het my vergeet.

15. My bywoners en my slavinne beskou my as 'n vreemde; 'n onbekende het ek geword in hulle oë.

16. Ek roep my slaaf, maar hy antwoord nie; met my mond moet ek hom smeek.

17. My asem is vir my vrou hinderlik, en my slegte reuk vir die kinders van my moeder se skoot.

18. Selfs jong seuns minag my; wil ek opstaan, dan spot hulle met my.

19. Al my vertroude vriende het 'n afsku van my; en die wat ek liefgehad het, het hulle teen my gekeer.

20. My gebeente kleef aan my vel en aan my vlees, en ek het slegs met my tandvlees ontsnap.

21. Ontferm julle oor my, ontferm julle oor my, o my vriende, want die hand van God het my getref!

22. Waarom vervolg julle my, soos God, en word nie versadig van my vlees nie?

23. Ag, mag my woorde tog maar opgeskrywe, mag hulle maar in 'n boek opgeteken word --

24. met 'n ystergriffel en lood -- vir altyd in 'n rots ingekap!

25. Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.

26. En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou;

27. Hom wat ‚k sal aanskou my ten goede, en my oë -- en geen vreemde nie -- sal sien, My niere versmag van verlange in my binneste.

28. As julle sê: Hoe sal ons hom vervolg, aangesien die wortel van die saak in hom gevind is! --

29. vrees dan vir die swaard, want grimmigheid is een van die oortredinge wat die swaard verdien, sodat julle kan weet dat daar 'n oordeel is.

1. Toe het Sofar, die Na„matiet, geantwoord en gesê:

2. Daarom juis antwoord my gedagtes my, en wel weens my haastigheid in my.

3. 'n Bestraffing wat vir my griewend is, moet ek aanhoor; maar die gees uit my verstand antwoord my.

4. Weet jy wel dit wat van altyd af was, vandat die mens op die aarde gemaak is:

5. dat die gejubel van die goddelose kort van duur is en die vreugde van die roekelose net vir 'n oomblik?

6. Al klim sy hoogheid na die hemel toe op, en al raak sy hoof aan die wolke --

7. soos sy eie drek vergaan hy vir ewig; die wat hom gesien het, vra: Waar is hy?

8. Soos 'n droom vlieg hy weg, sodat 'n mens hom nie meer vind nie; en hy word verjaag soos 'n naggesig.

9. Die oog wat hom gesien het, sien hom nie meer nie; en sy plek aanskou hom nie meer nie.

10. Sy kinders moet die guns soek van armes, en met eie hande moet hy sy vermoë teruggee.

11. Sy gebeente was vol van sy jeugdige krag; maar met hom saam lê dit in die stof.

12. Al smaak die kwaad soet in sy mond, al verberg hy dit onder sy tong,

13. al spaar hy dit, en al wil hy dit nie laat vaar nie, maar dit terughou in sy verhemelte --

14. tog word sy voedsel in sy ingewande verander, dit word gal van adders in sy binneste.

15. Rykdom het hy verslind, maar hy moet dit weer uitspuug; uit sy buik dryf God dit weg.

16. Die gif van adders suig hy in, die tong van 'n slang maak hom dood.

17. Hy mag hom nie verlustig in beke, in vloeiende strome van heuning en dikmelk nie.

18. Wat hy deur arbeid verkry het, gee hy terug sonder om dit in te sluk; na die maat van sy ingeruilde rykdom sal hy nie bly wees nie.

19. Want hy het die armes verdruk, aan hulle lot oorgelaat; 'n huis het hy geroof, maar hy sal dit nie opbou nie.

20. Want hy het geen rus geken in sy binneste nie; so sal hy dan nie ontsnap met sy kosbare goed nie.

21. Niks het ontkom aan sy vraatsug nie; daarom is sy voorspoed nie duursaam nie.

22. By die volheid van sy oorvloed sal hy benoud wees: al die hande van ellendiges oorval hom.

23. Om sy buik te vul, sal Hy teen hom uitstuur sy toorngloed, en Hy sal dit op hom laat reën as sy voedsel.

24. Hy sal vlug vir die ysterwapens -- 'n koperboog sal hom deurboor.

25. Hy trek -- daar kom dit uit sy rug, en die glinsterende swaard gaan uit sy gal; verskrikkinge is op hom!

26. Pure duisternis is bewaar vir sy skatte; 'n vuur wat nie deur mense aangeblaas is nie, verteer hom; dit wei af wat in sy tent oorbly.

27. Die hemel openbaar sy ongeregtigheid, en die aarde staan teen hom op.

28. Weggevoer word die opbrings van sy huis -- goed wat wegspoel op die dag van sy toorn.

29. Dit is die deel van die goddelose mens van die kant van God en die erfdeel wat vir hom bestem is deur God.

1. Maar Job het geantwoord en gesê:

2. Luister goed na my rede, en laat dit die vertroostinge wees wat julle aanbied.

3. Verdra my, dat ek ook kan spreek; en nadat ek gespreek het, kan jy spot.

4. Wat my aangaan, geld my geklaag dan 'n mens? Of waarom sou ek nie ongeduldig word nie?

5. Kyk my aan, en wees verskrik; en lê die hand op die mond.

6. Ja, as ek daaraan dink, is ek glad verslae, en verskrikking gryp my vlees aan.

7. Waarom bly die goddelose lewe, word hulle oud, ja, neem hulle toe in krag?

8. Hulle nakomelinge bestaan voor hulle in hul gemeenskap, en hul spruite voor hulle oë.

9. Hul huise het vrede, sonder skrik; en die roede van God is op hulle nie.

10. Sy stier bespring en mis nie; sy koei kalf en het geen misdrag nie.

11. Hulle laat hul jong seuns loop soos 'n trop kleinvee, en hul kinders spring rond.

12. Hulle sing by die tamboeryn en siter en is bly by die klank van die fluit.

13. In voorspoed slyt hulle hul dae, en in 'n oomblik sink hulle in die doderyk af.

14. Tog het hulle tot God gesê: Bly ver van ons af; en: In die kennis van u weë het ons geen behae nie.

15. Wat is die Almagtige dat ons Hom sou dien? En wat baat dit ons dat ons biddend by Hom aandring?

16.

17. Hoe selde gaan die lamp van die goddelose dood en oorval hul ondergang hulle! Deel Hy smarte uit in sy toorn,

18. word hulle soos strooi voor die wind, en soos kaf wat die stormwind wegvoer?

19. Julle sê: God spaar sy onheil vir sy kinders op. Ek sê: Hy moes dit aan homself vergeld, dat hy kan voel!

20. Sy eie oë moes sy ongeluk sien, en s‚lf moes hy drink van die grimmigheid van die Almagtige.

21. Want wat gee hy om sy huis n  hom as die getal van sy maande afgesny is?

22. Wil iemand aan God kennis leer, Hom wat die hemelse wesens oordeel?

23. Die een sterwe in volkome geluk, heeltemal gerus en tevrede.

24. Sy emmers is vol melk, en die murg van sy gebeente word deur en deur bevogtig.

25. Die ander daarenteen sterwe met bitterheid van siel sonder dat hy van die goeie geniet het.

26. Saam lê hulle in die stof, en die wurms oordek hulle.

27. Kyk, ek ken julle gedagtes en die slim planne waarmee julle gewelddadig teen my optree.

28. As julle sê: Waar is die huis van die tiran, en waar die woontent van die goddelose --

29. het julle dan nie navraag gedoen by die reisigers nie hulle bewyse kan julle tog nie loën nie!:

30. dat die kwaaddoeners gespaar word op die dag van ondergang, dat hulle weggelei word op die dag van grimmigheid?

31. Wie gee hom openlik sy gedrag te kenne; en het hy gehandel -- wie sal hom dit vergeld?

32. Dan word hy na die graf gebring, en hulle sorg vir sy grafheuwel.

33. Sag lê op hom die kluite van die dal; en agter hom trek al die mense aan soos daar ontelbares voor hom gewees het.

34. Hoe troos julle my dan op so 'n nietige manier? En julle antwoorde -- net troubreuk bly oor!

Você está lendo na edição AFR, Afrikaans, em Africânder.
Este lívro compôe o Antigo Testamento, tem 42 capítulos, e 1058 versículos.