1. Toe het lifas, die Temaniet, geantwoord en gesê:

2. Kan 'n man aan God 'n diens bewys? Nee, aan homself bewys die verstandige 'n diens.

3. Het die Almagtige daar belang by dat jy regverdig is? Of is dit voordeel vir Hom dat jy onberispelik wandel?

4. Is dit oor jou Godsvrees dat Hy jou bestraf, dat Hy met jou na die gereg gaan?

5. Is jou boosheid nie groot en jou ongeregtighede nie sonder einde nie?

6. Want jy het pand geneem van jou broers sonder noodsaak, en die klere van die naaktes het jy uitgetrek.

7. Aan die vermoeide het jy geen water gegee om te drink nie, en aan die hongerige het jy die brood onthou.

8. Maar aan die man van geweld -- aan hom behoort die land; en die aansienlike -- hy moet daarin woon!

9. Weduwees het jy met leë hande weggestuur, en die arms van die wese is verbrysel.

10. Daarom is daar vangnette rondom jou en maak die vrees jou skielik skrik.

11. Of sien jy die duisternis nie en die oorvloed van waters wat jou bedek?

12. Is God nie hemelhoog nie? En aanskou hoe hoog die hoogste sterre staan.

13. Maar jy sê: Wat weet God? Kan Hy deur donkerheid heen strafgerig hou?

14. Wolke is 'n bedekking vir Hom, sodat Hy nie sien nie; en oor die hemelgewelf wandel Hy.

15. Wil jy die pad van die ou tyd hou, wat die kwaaddoeners bewandel het,

16. wat gegryp is voor die tyd, wie se grondslag uitgegiet is soos 'n stroom,

17. wat tot God gesê het: Bly ver van ons af! en: Wat kan die Almagtige ons aandoen?

18. En tog het Hy hulle huise gevul met wat goed is. Maar die gesindheid van die goddelose is ver van my!

19. Die regverdiges sien dit en is bly, en die onskuldige spot met hulle en sê:

20. Waarlik, ons teëstander is verdelg; en wat hulle laat oorbly het, het die vuur verteer.

21. Sluit tog vriendskap met Hom, sodat jy vrede kan hê; daardeur sal goeie dinge oor jou kom.

22. Neem tog uit sy mond onderrig aan, en lê sy woorde weg in jou hart.

23. As jy tot die Almagtige terugkeer, sal jy gebou word; as jy die onreg verwyder uit jou tent.

24. En gooi die gouderts in die stof en tussen die rotse van die spruite die goud van Ofir.

25. Dan sal die Almagtige jou gouderts wees en stawe silwer vir jou.

26. Want dan sal jy in die Almagtige jou verlustig en jou aangesig tot God ophef.

27. Jy sal tot Hom bid, en Hy sal jou verhoor; en jy sal jou geloftes betaal.

28. Besluit jy iets, dan kom dit tot stand; en oor jou weë skyn 'n lig.

29. As die afdraand loop, dan sê jy: Boontoe! En hom wat neerslagtig is, verlos Hy.

30. Hy red selfs hom wat nie onskuldig is nie: ja, hy word gered deur die reinheid van jou hande.

1. Maar Job het geantwoord en gesê:

2. Nog altyd geld my geklaag as wederstrewigheid; my hand lê swaar op my gesug.

3. Ag, as ek maar geweet het waar ek Hom kon vind, maar kon kom tot by sy woning!

4. Dan sou ek die regsaak voor sy aangesig uiteensit en my mond met bewyse vul;

5. ek sou verneem die woorde wat Hy my sou antwoord, en verstaan wat Hy aan my sou sê.

6. Sou Hy met oormag teen my stry? Nee, maar Hy sou ag op my gee.

7. Dan sou daar 'n opregte met Hom staan en pleit, en ek sou vir ewig van my regter vrykom.

8. Kyk, ek gaan na die ooste, en Hy is nie daar nie; en na die weste, maar ek bemerk Hom nie.

9. As Hy in die noorde werk, aanskou ek Hom nie; buig Hy af na die suide, dan sien ek Hom nie.

10. Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom.

11. Aan sy voetstap het my voet vasgehou; sy weg het ek bewaar sonder om uit te draai.

12. Van die gebod van sy lippe het ek nie afgewyk nie; die woorde van sy mond het ek bewaar meer as my eie wet.

13. Maar Hy bly onveranderlik Een -- wie sal Hom dan teëhou? En wat sy siel begeer, dit doen Hy.

14. Want Hy sal volbring wat oor my besluit is, en baie sulke dinge is daar by Hom.

15. Daarom is ek verskrik voor sy aangesig; as ek daarop ag gee, vrees ek vir Hom.

16. En God het my hart week gemaak, en die Almagtige het my verskrik.

17. Want ek vergaan nie vanweë die duisternis of vanweë my eie aangesig wat deur donkerheid oordek is nie.

1. Waarom het die Almagtige vir Hom geen geregstye voorbehou nie, en sien die wat Hom ken, nie sy geregsdae nie?

2. Grenslyne verlê hulle; 'n trop vee roof hulle en laat dit wei.

3. Die esel van die wese dryf hulle weg, die bees van die weduwee neem hulle as pand.

4. Hulle stoot die behoeftiges van die pad af; die ellendiges van die land kruip almal saam weg.

5. Kyk, soos wilde-esels in die woestyn trek hulle uit na hul werk, terwyl hulle soek na voedsel; die wildernis lewer brood vir hulle, vir die kinders.

6. Op die veld gaan hulle voer haal, en in die wingerd van die goddelose hou hulle na-oes.

7. Naak bring hulle die nag deur, sonder klere, en hulle het geen bedekking teen die koue nie.

8. Van die stortbui van die berge word hulle nat; en by gebrek aan skuiling druk hulle hul teen die rotse vas.

9. Hulle ruk die weeskind van die bors af; en wat die arme aan het, verpand hulle.

10. Naak gaan hulle heen, sonder klere; en terwyl hulle honger het, dra hulle gerwe aan.

11. Tussen die mure van die mense pars hulle olie, trap die parskuipe terwyl hulle versmag van dors.

12. Uit die stad kerm die manne, en die siel van die gewondes roep om hulp; tog gee God geen ag op die ongerymdheid daarvan nie.

13. Sulke mense behoort by die vyande van die lig: hulle ken nie die weë daarvan nie en bly nie op die paaie daarvan nie.

14. Teen dagbreek staan die moordenaar op, hy maak die arme en behoeftige dood, en in die nag is hy soos die dief.

15. En die oog van die owerspeler neem die skemeraand waar en sê: Geen oog kan my sien nie; en hy sit 'n sluier voor sy gesig.

16. In die duisternis breek hulle in die huise in; bedags sluit hulle hul op; hulle ken nie die lig nie.

17. Want vir hulle saam is die stikdonker 'n môrestond, want hulle ken die verskrikkinge van die stikdonker.

18. Gou dryf hul voort op die oppervlakte van die water; hulle stuk grond word vervloek in die land; hulle begeef hul nie meer op pad na die wingerde nie.

19. Droogte, ook hitte, roof die sneeuwater weg -- so die doderyk die wat gesondig het.

20. Die moederskoot vergeet hom; die wurms eet smaaklik aan hom; aan hom word nie meer gedink nie: so word dan die onreg gebreek soos 'n stuk hout --

21. hy wat die onvrugbare plunder wat nie baar nie, en aan die weduwee geen weldaad bewys nie.

22. Tog laat Hy deur sy krag die magtiges lank lewe; hy wat al van sy lewe nie seker was nie, staan weer op.

23. God gee hom veiligheid, en hy steun daarop; en sy oë is op hulle weë.

24. Hulle het hul verhef -- 'n kort rukkie, dan is hulle daar nie meer nie; en hulle word verneder; soos almal sterwe hulle; en soos die boonste van 'n halm word hulle afgesny.

25. En is dit nou nie so nie, wie sal my van 'n leuen beskuldig en my rede tot niet maak?

1. Toe het Bildad, die Suhiet, geantwoord en gesê:

2. Heerskappy en verskrikking is by Hom wat vrede maak in sy hoogtes.

3. Is daar 'n getal vir sy leërskare? En oor wie rys sy lig nie op nie?

4. Hoe sou dan 'n mens regverdig wees by God? En hoe sou hy rein wees wat uit 'n vrou gebore is?

5. Kyk, selfs die maan -- hy skyn nie helder nie; en die sterre is nie rein in sy oë nie.

6. Hoeveel minder die mens, 'n maaier; en die mensekind, 'n wurm.

1. Maar Job het geantwoord en gesê:

2. Hoe goed het jy die onmagtige bygestaan, die kragtelose arm gehelp!

3. Hoe mooi het jy die onwyse raad gegee en beleid in oorvloed bekend gemaak!

4. Aan wie het jy woorde te kenne gegee, en wie se gees het uit jou uitgegaan?

5. Die skimme is beangs onder die waters en onder die bewoners daarvan.

6. Naak lê die doderyk voor Hom, en die plek van vertering het geen bedekking nie --

7. voor Hom wat die noorde uitspan oor die chaos, wat die aarde ophang oor 'n niks;

8. wat die waters saambind in sy wolke sonder dat die wolkgevaarte daaronder skeur;

9. wat die gesig van die troon toehou deurdat Hy sy wolk daaroor uitsprei.

10. Hy het 'n kring afgetrek oor die watervlakte tot waar lig in duisternis eindig.

11. Die pilare van die hemel wankel en staan verstom weens sy dreiging.

12. Deur sy krag bring Hy die see in beroering, en deur sy verstand verpletter Hy Rahab.

13. Deur sy asem word die hemel helder; sy hand het die vinnige slang deurboor.

14. Kyk, dit is maar die uitlopers van sy weë, en wat 'n fluisterwoord hoor ons maar van Hom! Wie sou dan die donder van sy magtige dade verstaan?

1. En Job het verder sy spreuk aangehef en gesê:

2. So waar as God leef wat my my reg ontneem het, en die Almagtige wat my siel bitterheid aangedoen het --

3. want my asem is nog heeltemal in my, en die lewensasem van God is in my neus --

4. my lippe spreek geen onreg nie, en my tong verkondig geen bedrog nie!

5. Dit is ver van my dat ek julle gelyk sou gee; totdat ek die asem uitblaas, sal ek my onskuld nie prysgee nie.

6. Aan my geregtigheid hou ek vas en laat dit nie los nie; my hart veroordeel geeneen van my dae nie.

7. My vyand moet dus verskyn as goddelose en my teëstander as kwaaddoener.

8. Want wat is die verwagting van die goddelose as Hy afsny -- as God sy siel wegneem?

9. Sal God sy geroep hoor as benoudheid oor hom kom?

10. Of sal hy hom kan verlustig in die Almagtige, God altyd kan aanroep?

11. Ek sal julle onderrig aangaande die hand van God; wat by die Almagtige is, sal ek nie verberg nie.

12. Kyk, julle het dit almal self aanskou, en waarom koester julle dan 'n ydele hoop?

13. D¡t is die deel van die goddelose mens by God en die erfdeel van die tiranne wat hulle van die Almagtige ontvang:

14. as sy kinders baie word, is dit vir die swaard; en sy spruite word nie versadig met brood nie.

15. Die wat van hom oorbly, word deur die pes begrawe, en sy weduwees ween nie.

16. As hy silwer ophoop soos stof en klere aanskaf soos modder --

17. hy skaf aan, maar die regverdige trek dit aan; en die onskuldige verdeel die silwer.

18. Hy het sy huis gebou soos 'n mot en soos 'n skerm wat die oppasser maak.

19. Ryk gaan hy lê, maar hy doen dit nie weer nie; hy maak sy oë oop en -- is nie meer nie.

20. Verskrikkinge oorval hom soos waterstrome; in die nag voer 'n stormwind hom weg.

21. Die oostewind tel hom op, en daar gaan hy; en dit storm hom weg uit sy plek.

22. En God werp op hom af sonder verskoning, vir sy hand moet hy haastig vlug.

23. Hulle klap oor hom in hul hande en spot hom weg uit sy plek.

Você está lendo na edição AFR, Afrikaans, em Africânder.
Este lívro compôe o Antigo Testamento, tem 42 capítulos, e 1058 versículos.